Boom van die Jaar 2020 in Suid Afrika – Essenhout

Yvette Mulder

(Yvette, ‘n passievolle plant mens, is die eienaar van Hermitage Herbs Kwekery waar meeste inheemse plante, kruie en skadu plante self gekweek word sommer so al om hul eertydse volkshuisie in die Hermitiet. Yvette het n BSc graad in plantkunde en dierkunde en gesels graag oor plante. Voorbeelde van inheemse tuine deur haar ontwerp en tot stand gebring  kan besigtig word in Swellendam)

Ekebergia capensis:  Essenhout(A), Cape ash(E), nyamaru(Ts). – SA Boom 298

Ondervind jy dalk probleme met muisvoëls in jou groentetuin en vrugteboord?  Ek is van mening dat ons te min inheemse bome aanplant ten einde natuurlike kos vir ons voëls bied. September/Oktober is boomplantmaand.  Of jy nou ‘n geskenk vir iemand wil koop, wil help met die klimaat krisis, meer skaduwee wil skep of iets plant om jou buurman se huis weg te steek, of omdat jy vir die muisvoëls (en ander vrugte en insekvretende voëls) ‘n nuwe restaurant wil oopmaak , hier is jou kans om sommer al jou doelwitte te bereik  met ons eie inheemse boom van die jaar : die  Kaapse Essenhout.

Hierdie boom word nou wel ‘n ‘Cape Ash’ genoem, maar het niks te doen met die ander ash bome(Fraxinus) wat in die familie Oleacea voorkom nie. Ons Cape Ash hoort in die mahonie familie:  Meliaceae met wit blommetjies in die lente wat heerlik ruik met lekker rooi vruggies vir voëls, ‘n mooi growwe donkergrys bas (wat ook medisinale waarde het), en dan boonop is die nuwe blaartjies in die lente ‘n pragtige rooi kleur, wat meer wil mens nou hê?  Die boom kan groot word, gewoonlik tot 20m (en soms selfs hoër), 8m wyd  maar het nie wortels wat n bedreiging vir geboue en fondasies kan wees nie. Dit is egter wenslik om so ‘n groot boom sowat  5m vanaf geboue te plant.

Nog ‘n paar eienskappe van die  Kaapse Essenhout:   manlike en vroulike blomme word op aparte bome gedra. Hulle is droogte bestand maar hou nie van ergere koue en ryp nie.   Hierdie boomsoort groei natuurlik in woude en langs riviere, groei ook in kleigrond, hanteer wind goed en groei nogal vinnig. Alhoewel hierdie boom nie endemies in ons kontrei voorkom nie, is dit ‘n pragtige inheemse straatboom en skaduboom vir tuine met vele voordele.

Die witstreep dubbelstert skoenlapper (die vinnigste vliëende vlinder in Suid Afrika) gebruik hierdie boom as ‘n gasheer vir sy ruspes. Daar is ook omtrent  9 spesies motte wat hierdie boom gebruik.  Die hout word vir meubels en balke aangewend . Die wortels is ook medisinaal en word onder andere gebruik vir keel en kopseer.  Selfs die blare word gebruik vir inwendige wurms.

Essenhout se Latynse naam Ekebergia , kom van ene Carl Gustov Ekeberg, ‘n sweedse skeepskaptein  wat in die 1700’s  geleef het en vir die Duits-Oos-Indiese Kompanie gewerk het.  Net soos ons boom, was hy ook ‘n heelpaar dinge, onder andere ‘n apteker, kartograaf en chirurg. Hy het vir sy vriend Linnaeus (die vader van ons plant klassifikasies) plante gebring en onder andere ons essenhout wat toe na hom vernoem is.  Carl was ‘n slimkop wat heelwat boeke geskryf het.  Hy was ook ‘n lid van die Sweedse Akademie van Wetenskap  en ‘n Ridder (Knight) van die Orde van Vasa.  Verbeel jou nou net dat ons eie Essenhout (of dele van hom?) hier van die Kaap af saam met  hierdie hoogs aangeskrewe man al die pad na vader Linnaeus in Swede toe was , waar hy toe sy naam gekry het.

As jy die woorde “Witstreep Dubbelstert Skoenlapper” vir ons (met ‘n glimlag natuurlik) kom sê hier by Hermitage Herbs, kry jy onmiddelik 20% afslag op jou Essenhout(e).

Yvette

Next Post

Alien trees - perspective

Wed Dec 16 , 2020
A general perception with many folk are to cut and poison what we think of as alien vegetation. We are disconnected from the land, the spirit of nature,we need to urgently learn to observe and react with care, respect and patient unselfish consideration ,remembering that what we do in our […]