Swellendam Voetslaanpad

Dankie Thomas Joubert vir hierdie bydrae.

Hierdie voetslaanpad is een van die ouer paaie en een van die mooistes. Die Boskloofhut het in 2012 afgebrand en is pas vervang met ʼn skuiling. ʼn Paar van ons het toestemming gekry om in Maart die pad te stap en te rapporteer oor die paadjies self asook die hutte. Die Swellendam Voetslaanpad is weer oop. Hieronder is ‘n verslag van ons stap net voordat die roete weer oopgemaak het.

Dag 1. Marloth tot Boskloof. 16 km

Swellendam Voetslaanpad 11-14 Maart 2017

Die roete begin by Cape Nature se Marloth kantoor. Die Glenstroomhut is daar vir mense wat van ver af kom, maar ons Swellendammers het sommer van ons huise af gestap en by Koloniesbos se parkeerplek die paadjie gekry.

Vyf van ons het die eerste dag die staptog aangepak, maar ongelukkig moes twee na die eerste dag reeds omdraai.

Die dag van die stap begin ons vroeg. Die sakke is swaar. Die Plaat se opdraande werk op enige mens se bene, maar die omgewing laat ʼn mens gelukkig toe om kort-kort te rus deur kastig ʼn foto te neem. Die boonste klofie van Wamakersbos het ook in 2012 se brand skade gely, maar herstel intussen mooi. Dit is dan ook ons eerste teedrinkpunt. Appelsbos, een van die ou ronde plase in die distrik, lê regs onder. 

Christoff hou nie van opdraandes nie, ek hou nie van afdraandes nie en Joan hou van beide. Goeie balans. Ons stap verder oos en kyk later af op die twee ronde gronddamme wat oom Barry Streicher gemaak het, en op die Buffeljagsdam. ʼn Mens dink dat jy bo is wanneer jy by die rusboompie kom, maar jy is nie, jy draai maar net noord en klim en klim en draai later wes en klim en klim verder. Klim beteken nie net op nie, dit is af en op, maar die op is meer as die af; gelykpad is daar nie.

Daar is, al is dit nie regtig al blomtyd nie, ʼn verskeidenheid blommetjies langs die pad. Hoër op is mooi Koningsproteas (Protea cynaroides) in sulke klompe bymekaar. Baie mense mag dink die berg het net hierdie een kant en dan ʼn ander kant, maar dit is nie waar nie: die berg het ʼn binneste ook. Ons kyk later af op sy binneste, daar waar jy net te voet kan uitkom. Onder, ver na die weste, loop die paadjie. Die son is warm. Ons drie stap ver uitmekaar, elkeen met sy eie gedagtes. Later lê ons elkeen moeg onder ons eie bos in die warmte. 

Die nuwe skuiling by Boskloof is ʼn sinkhok van 4×5 meter, met ʼn deur en twee venstertjies, en neffens is ʼn eko-vriendelike longdrop. Die hut self kort nog baie karakter en ʼn mens verlang na die ou stewige houthut (log cabin) van vroeër. (Daar is intussen nog ‘n hut en ekotoilet opgerig, en matrasse word voorsien). 

Daar is niks in die hut nie. Niks om op te sit, te staan, te kook of te lê nie, behalwe die laaghoutvloer. Daar was wel heelwat agt-beniges wat die gaste kom bekyk het. – iemand  moet miskien ʼn gidsboek oor spinnekoppe daar laat. Ons het die water gaan soek en ʼn afkoelpoel gekry. Dit was heerlik om die dag se sweet van ons af te was.

Kosmaak op die vloer het sy uitdagings gebied, want die bene en die rûe was moeg. Die geur en tekstuur van Joan se gedroogte maalvleisgereg en veerligte kapokaartappels het meer byvoeglike naamwoorde ontlok as wat op ʼn goeie bottel wyn se etiket staan.

Die moegheid het ons gou oorval. Later die nag, toe die voorspelde reën begin val, toe eers het ons die deur toegemaak.

Dag 2. Boskloof tot Goedgeloof. 10 km

Sesuur. Reën op die sink en kondênsmelk in die koffie. In ʼn leë hut met sinkdak en sinkmure klink die reën erger as wat dit is. Ons het besluit om 11h00 te begin stap, of dit nou reën of nie. Elfuur, wanneer ons begin loop, het die reën opgehou, maar daar is nog swaar mis. Die pad begin met ʼn skerp zig-zag opdraande paadjie. In die mis kan ons nie ver sien nie, maar die paadjie self is tog duidelik. Die koningsproteas so langs die paadjie in die mis dien vir ons as padaanwysers. ʼn Mens loop op en dan geleidelik oos met Drosterspas; bo-op die berg draai jy by Aasvoëlklip en loop weer wes. Normaalweg kan ʼn mens daar op die Klein Karoo afkyk, maar hierdie keer is dit te mistig. Die verweerde klipformasies is baie mooi.

By Het Goedgeloofnek kan jy jou sak los en na Misty Point, op 1710m die hoogste punt in dié deel van die Langeberge, stap. Ons het egter besluit dit is te mistig daarvoor. By die Nek kyk ʼn mens weer oor die Klein Karoo en lê die Poortjiekloofdam doer in die verte; Goedgeloof se hut is ook daar iewers onder. Die pad af is ver en dit is amper die heeltyd af tussen groot klippe, oor los en vas klippe heen, en dit voel na ʼn roete sonder einde. Boonop kan ʼn mens nie genoeg na die interessante verweerde rotse kyk nie, want jy moet kyk waar jy loop.

Die Goedgeloofhutte is twee mooi kliphuisies. Daar is ook ‘n nuwe kookvertrek. Die twee nuwe eco-longdrops se deure is afgewaai. Nou is dit regtig “a room with a view”, maar jy moet sing-sing op die troon sit, sodat die ander weet jy is daar.

Joan se aandete-gereg met spek en sampioene en olywe is weer ʼn aangename subtiele ontploffing van geure. Miskien moet ons haar inskryf vir die TV program Topstapkoskok.  Met haar twee houtlepeltjies sal sy op ʼn drafstap wen.

Die slaap op ʼn bed met ʼn matras en met die natuur se naggeluide en die maanlig deur die oop deur is salig.

Dag 3. Goedgeloof tot Proteavallei.  10 km

Die paadjie begin met ʼn afdraande en dan op en af deur klofies. By Warmwaterriver begin die roete weer teen die berg op klim. Dit is so van 600 m tot oor die 1055 m tot heelbo. Dit is steil. Joan vra kort-kort  of ek nie ʼn klip met haar naam daarop sien nie, maar ek kyk dit heeltemal mis en kort voor lank is ons op by Warmwaternek en weer in die berg se binneste, waar ʼn mens nie ʼn enkele mensgemaakte voowerp kan sien nie..

Van daar af is die stap na Proteavallei se hut ver, maar maklik, en beeldskoon na alle kante toe. 

Noord van die hut, oorkant die kloof, is daar ʼn hoë, lang hang, baie hektare groot, en dit is vol proteas. In blomtyd is dit ʼn gesig wat die stap daarheen oor en oor werd is. Oos van die hut, ver en hoog is Misty Point met sy miskombersie.

Kerrie van gedroogte maalvleis is ons kos. Kerrie sterk, maar nie te sterk nie, geurig, net reg – nee, meer as reg.

Dag 4. Proteavallei na Wolfkloof.  8,2 km

Van Proteavallei af het ʼn mens vroeër ʼn keuse gehad: Jy kon stap oor die Vensterbank as die weer mooi is, of ander kon jy oor die Kruispad. Die Vensterbankpad is egter tydelik toegemaak, en almal stap nou die korter Kruispadroete. Die sakke is al ligter, of ons is al stapfikser, en dit gaan redelik vrolik. Dit is mooi om in die diep klowe, soos Kleinhoutboskloof, af te kyk. 

Aan die voorkant van die berg lê die mis oor die rûens, en ons kyk van bo-af daarop af. Pragtig. Die pad is nie te moeilik nie, maar die laaste steil afdraand na Wolfkloof werk weer die knieë. Wolfkloof se hut, soos Proteavallei, is ʼn ou stewige houthut.  By Wolfkoof is ook ʼn vuurmaakplek en swemplek. Boonop het ʼn mens genoeg tyd om in die kloof op te stap en die mooi bome en klippe en waterpoele te geniet.

Dag 5. Wolfkloof tot Marloth. 10,7 km

Die paadjie loop oor die riviertjie en dan draai dit zig-zag teen die berg op, sommer steil. Bo op is dit weer mooi om noord oor die Wolfkloof te kan kyk. Die pad loop oor die kneukels van die berg en weer af tot in die Hermitage. Daarna klim die paadjie weer steil teen die berg op en op en by Dokterbos verby na die beginput by Marloth se kantoor.   

Bespreek jou plek by Cape Nature 087 087 9262 www.capenature.co.za. Belangrike feite om te onthou is dat dit hier enige tyd van die jaar kan reën, en die roete is nie ʼn besonder maklike stap nie. As jy stapfiks is geniet jy dit beslis meer. 

John

Next Post

Mosamane hiking trail – Eastern Free State

Thu Jan 14 , 2021
The Mosamane hiking trail is just a few kilometers from Rosendal and offers absolutely spectacular scenery. This pristine trail takes hikers up to the foot of the mountains where you enter a magical word of cliffs, massive sandstone overhangs, caves, two huge round cavities in the rock face called the […]