Die oorsprong van chaos en lyding – ʼn wetenskaplike benadering.

In ons Desember uitgawe verskyn ʼn artikel  genaamd “Vraag – hoekom word ons kwaad” wat die mite weerlê dat oeroue dierlike instinkte verantwoordelik is vir ons aggressiewe en mededingende menslike gedrag (menslike toestand).  

Die volgende insiggewende uittreksel uit ʼn radio-onderhoud wat ʼn Britse omroeper (Craig Conway) met bioloog Jeremy Griffith gevoer het is ʼn pragtige voorbeeld van hoe die goed-en-kwaad ‘menslike toestand’ by mense ontstaan het.

Die transkripsie (in Afrikaans) van hierdie onderhoud kan van die World Transformation Movement-webblad afgelaai word.

Jeremy: Ja, ons egosentriese, arrogante, gemene, wraaksugtige, selfs sadistiese gedrag het niks te doen met die reproduksie van ons gene nie. Dié opvatting was absurd. En dis eintlik baie goeie nuus dat ons gedrag as gevolg van ’n bewuste verstandsgebaseerde, sielkundig-versteurde toestand ontstaan, omdat psigoses genees kan word, mits ons hulle verstaan. Indien ons mededingende en aggressiewe gedrag te wyte was aan ons wrede instinkte, dan sou ons met daardie in- of aangebore, onveranderlike gedragspatroon moes opgeskeep sit. Maar aangesien ons spesie se verdelende gedrag aan ’n psigose toegeskryf kan word, kan dit deur ’n helende begrip daarvan genees word. En dit is inderdaad baie goeie en opwindende nuus, want met begrip kan ons uiteindelik ons sielkundig-versteurde menslike toestand beëindig. Ons het selfbegrip nodig om die pyn in ons brein te genees en om weer na liggaam en siel gesond te word.

Soos ek gesê het, was die ‘wrede instinkte’ verklaring maar net ’n gerieflike verskoning terwyl ons op soek was na die ware verklaring van ons verdelende gedrag wat die psigose daarvan sou behandel en oplos. En dis die verduideliking wat ek graag nou wil aanbied.

Craig: Okei, dus wat jy hier sê, Jeremy, is dat ons nie meer die gerieflike verskoning vir ons wrede dierlike instinkte nodig het nie, aangesien ons die ware verklaring van ons bewuste, verstandsgebaseerde, sielkundig-versteurde menslike toestand het!

Jeremy: Ja, en hierdie allerbelangrike sleutelverklaring wat die psigose behandel en oplos, is eintlik voor die hand liggend. As ons daaroor nadink, indien ’n dier ten volle bewus sou word, soos met die mensdom gebeur het, dan sou daardie dier se nuwe selfbeherende, verstandsgebaseerde brein seer sekerlik sy vorige instinktiewe oriëntasies jeens die wêreld moes uitdaag, nie waar nie? Daar sou ’n stryd moes uitbreek tussen die ontwakende, bewuste verstand, wat volgens ’n besef van oorsaak-en-gevolg te werk gaan, en die onwetende instinkte, wat daardie dier nog altyd beheer het en aan hom voorgeskryf het hoe hy hom moet gedra.

Craig: Ja, dit maak sin, Jeremy, maar wat het eintlik plaasgevind toe hierdie dier bewus geword het en sy hele lewe in ’n sielkundig-ontstelde verwarring verander het?

Jeremy: Die maklikste manier om te sien wat gebeur het is om jou ’n dier voor te stel, wat altyd onder beheer van sy instink was, en wat hom skielik in ’n situasie bevind waar hy ’n bewuste verstand ontwikkel. As ons dit doen, sal ons gou sien hoe daardie dier ’n sielkundig-versteurde mededingende en aggressiewe toestand sou ontwikkel, soos die een waaraan ons almal ly. Kom, neem ’n ooievaar as voorbeeld: ons noem hom Adam. Elke somer migreer Adam instinkmatig noord saam met die ander ooievaars om die kus van Afrika na Europa om daar te gaan paar, soos sekere ooievaarsoorte maar doen. Aangesien Adam Ooievaar nie oor ’n bewuste verstand beskik nie, oordink of bevraagteken hy nooit sy eie gedrag nie; volg net sy instinkte.

 

Maar wat sou gebeur as ons Adam ’n groot brein gee wat tot bewuste gedagtes in staat is? Hy sal wel vir homself begin dink, maar baie van sy nuwe idees sal nie met sy instinkte strook nie. Byvoorbeeld, gestel Adam, wat saam noordwaarts met die ander ooievaars migreer, sien ’n eiland vol appelbome. Hy neem ’n bewuste besluit om af te wyk van sy migrasieroete om die eiland te gaan verken. Dit is sy eerste groot  eksperiment in selfbestuur.

Maar sodra Adam se instinkte gewaar dat hy van sy koers afgedwaal het, sal hulle sy ongeprogrammeerde gedrag kritiseer en ’n dogmatiese poging aanwend om hom weer op sy instinktiewe vlugroete terug te bring, nè? Hy sal gevolglik as sleg beoordeel word.

Jy kan jou Adam se verwarring voorstel: hy kan eenvoudig nie terugkeer en sy instinkte navolg nie. Sy instinktiewe oriëntasies ten opsigte van die migrasieroetes is oor duisende geslagte van natuurlike seleksie verwerf, maar daardie oriëntasies was nooit insigte nie, en aangesien die bewuste verstand insig vereis, wat net deur eksperimentasie kan geskied, sal dit onmiddellik in teenstryd met sy instinkte wees.

Die ideale ding op hierdie tydstip sou wees as Adam se bewuste verstand aan sy instinkte sou verklaar het hoekom hy in opstand gekom het. Hy sou verduidelik het dat die geen-gebaseerde, natuurlike seleksieproses slegs instinktiewe oriëntasies ten opsigte van die wêreld gee, waar dit van sy senuwee-gebaseerde, bewuste verstand, wat wel sin van oorsaak en gevolg kan maak,’n besef of begrip van die wêreld vereis om te kan werk.

Maar Adam beskik nie oor hierdie selfbegrip nie. Hy het nou eers sy soektog na kennis begin. Hy is in der waarheid nie eers bewus van wat die probleem eintlik is nie. Hy begin voel dat hy sleg, of selfs boos, is.

Craig: Okei, dus wat jy sê is dat daar ’n stryd tussen sy bewuste verstand en sy instinkte ontstaan het. En hy kan dit nie verklaar nie, en dit laat hom sleg voel of dat hy op een of ander manier sleg, of selfs boos, is. Wat het toe gebeur?

Jeremy: Dis tragies, want terwyl hy op soek na begrip is, kan ons insien dat drie dinge onvermydelik gebeur. Adam gaan verdedigend reageer teenoor die geïmpliseerde kritiek vanaf sy instinkte; hy gaan desperaat soek na enige versterking wat hy kan vind om ontslae te raak van dié negatiewe gevoelens; en hy gaan probeer om die kritiek te ontken en uit sy gedagtes te kry! Hy het woedend, egosentries en vervreemd geword – en dis die sielkundig-versteurde of -ontstelde toestand wat ons die menslike toestand noem, omdat die mens ’n bewuste verstand ontwikkel het en sielkundig ontsteld geword het.

(En ‘ontsteld’ is die korrekte woord vir ons toestand, want hoewel ons nie ‘boos’ of ‘sleg’ is nie, is ons beslis sielkundig-ontsteld as gevolg van die dwang om aan die mensdom se heldhaftige soektog na kennis deel te neem. ‘Korrup’ en ‘in onguns of ongenade val’ is woorde wat ons toestand beskryf, maar hulle het negatiewe konnotasies, wat ons nou as onverdiend beskou; dus is ‘ontsteld’ ’n beter woord.)

Adam se intellek of ‘ego’ – ego is eintlik maar net ’n ander woord vir die intellek, volgens die definisie van ‘ego as die bewuste, denkende self’ in die Concise Oxford Dictionary (5de uitgawe, 1964) – en syne het meer op die behoefte na selfverantwoording gefokus. Adam het egosentries geword, selfsugtig behep met aggressiewe mededinging om geleenthede om homself as goed en nie sleg nie te bewys, om sy eiewaarde te regverdig, om voordeel uit ‘wen’ te trek; om wesenlik enige positiewe versterking te kry wat hom van sy kritiserende instinkte sou verligting bied. Hy het onvermydelik selfbehep of selfsugtig, aggressief en mededingend geword. Dus is ons selfsugtige, mededingende en aggressiewe gedrag nie die gevolg van wrede instinkte nie, maar van ’n sielkundig-ontstelde toestand of ontsteldheid. Dit kom daarop neer dat sielkundige ontsteldheid die prys was wat ons as bewuste mensdom moes betaal vir ons heldhaftige soektog na begrip. In die woorde van die liedjie The Impossible Dream van die musiekblyspel Man of La Mancha, moes ons bereid wees om ter wille van ’n goddelike saak in die hel in te marsjeer (‘march into hell for a heavenly cause’ – lirieke deur Joe Darion, 1965). Ons moes onsself verloor, om onsself te vind; ons moes dit duld om woedend, vervreemd en egosentries te word, totdat ons voldoende kennis opgedoen het om met insig onsself nader te verklaar.”

Griffith lewer ʼn nie-abstrakte, nie-mistieke, volkome rasionele en dus verstaanbare, wetenskaplike, biologiese verklaring vir die menslike toestand. Die verwarring en trauma van die koronavirus-pandemie en wêreldgebeure oor die algemeen het net die dringende behoefte in die wêreld na ’n dieper, blywende oplossing vir alle chaos en lyding in die menselewe verhoog. Om ’n begrip van ons sielkundig-ontstelde menslike toestand te soek en te vind was eintlik nog altyd die doel van elke lewende mens op aarde se toegewyde strewes, prestasies en bydraes. Dit is dan ook die oorwegende rede vir waarom ons Jeremy Griffith se navorsing vir die doeleindes van hierdie reeks artikels gebruik.

John Mulder

29 Januarie 2021

John

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Next Post

Gert se Kersfeesstorie

Wed Jan 27 , 2021
Ek brand al vir lank om hierdie storie te vertel, maar tot nou toe het ek uitgehou. Merkwaardig, al moet ek dit self sê. As ek ‘n storie hoor dan moet hy vertel word, maar hierdie een moes net wag op die regte tyd. Verlede jaar besluit Gert en Lien […]